DIAKONIE
Die Warmhartigheidsleivoor (Diakonie) streef daarna om die naam waardig te wees: Warmhartig. Diegene wat deur die Here hiertoe geroep word, het ‘n hart vir dienslewering – die spreekwoordelike “Marta” van die Bybel. Die Warmhartigheidsleivoor het twee bene, naamlik barmhartigheid en die bevordering van die gemeenskap van gelowiges.
My formele betrokkenheid by die diakonie begin in 2004, ʼn jaar nadat die gemeente begin het om vroue tot die diaken-amp toe te laat. Wat vir my uitstaan is die oop harte van die gemeente wanneer daar nood is en ook die ywer waarmee byeenkomste gereël word, tee geskink word, kos gemaak en algemeen saam gewerk word tot eer van die Here. Die werk wat die diakens doen vul my hart met warmte, want dis onselfsugtige werk. Die Here seën ons gemeente met lidmate met die finansiële vermoëns om barmhartigheidsbesteding binne ons gemeente, maar ook binne ons dorp en omgewing te doen. Die Here seën ons gemeente met ʼn verskeidenheid talente wat tot eer van die Here gebruik word.
Vista Bergwedloop en gesinspretloop ten bate van kinderwelsyn
vir President Kruger Kinderhuis, Reddersburg en Anna Stigting
Stellenbosch gehou deur GK Stellenbosch in samewerking met
Stellenbosch Atletiekklub 17 April 2010.
Die diakonie het ʼn groot fokus op die kinderhuis op Reddersburg. As ʼn plattelandse kinderhuis is die nood groot daar. Verskeie projekte is al aangepak vir fondsinsamelings, waarvan die grootste seker die bergfietsresies in Jonkershoek en die Vista bergwedloop was. Beide hierdie geleenthede het mooi bedrae geld vir die kinderhuis ingesamel, maar ʼn bykomende voordeel was die samewerking wat tussen gemeentelede plaasgevind het. Die vroeg in die oggend vlagswaai of water aangee in die berg, was vir almal ʼn positiewe (hoewel koue!) ervaring.
Reddersburg Kinderhuis uitstappie 2016
Op kleiner skaal was die Herfstee en ʼn aantal Lentetees wat ons ook ten bate van Reddersburg aangebied het. Hier het die vroue van die gemeente die kans gekry om as gasvroue op te tree en hul tafels na eie smaak te versier. Elkeen het hul vriendinne genooi en was so ʼn oggend ʼn groot kuier van om en by 300 vroue. Ons het verskeie sprekers genooi en hiervan bly Monique Strydom se bydrae vir my ʼn hoogtepunt.
Elke paar jaar bring die kinderhuis ʼn klompie van hulle hoërskoolkinders vir ʼn uitstappie na die Kaap en dan is hulle vir ʼn dag lank ons gaste. By elk van hierdie geleenthede waarby ek betrokke was,
het ek net soveel meer uit die dag gekry as wat ek naastenby bygedra het. Soveel liefde van die kinders, soveel entoesiasme vir elke aktiwiteit en soveel blymoedigheid is werklik ʼn wonderlike ervaring.
Die gemeenskap van gelowiges word binne ons gemeente bevorder deur nagmaaletes, een Groot Braai per jaar, ʼn ete vir die bo-60-jariges, ʼn mannedag, ʼn vrouegeleentheid, roomys om die studente te verwelkom aan die begin van die jaar en etes vir die studente by die permanente lidmate. Hierdie is alles geleenthede om die bande tussen gemeentelede te versterk.
Die diakens self verteenwoordig die spektrum van ons gemeente – vroue, mans, permanente lidmate, studente. Elkeen het ʼn verantwoordelikheid wat verder strek as om elke Sondag geld op te neem en te tel of om nagmaal voor te berei. Ons doelwit is om as sameroepers op te tree en die gemeente by die verskillende aktiwiteite te betrek. So word die werk van die diakonie deur veel meer lidmate gedoen as diegene wat formeel diakens is. Hier dink ek aan elkeen wat iemand besoek in tye van swaarkry, ʼn bord kos verskaf aan iemand in nood of besoekers laat tuis voel in ons gemeente. Elkeen wat “warmhartig” teenoor ʼn naaste optree, vervul die rol van ʼn diaken.
Sophia du Plessis