Dr CJH (Cassie) Venter en sy vrou Mariana (gebore Viljoen)
Kerkraad van GK Stellenbosch Augustus 1984
Agter vlnr: I Swart, JJ Dekker (Jnr), JJ Dekker (Snr), MJ Kamper, AJ Greyling, SJ du Plessis, DB Venter, JE Pienaar
Middel vlnr: J Hayes, KM Dijkstra, JPL van der Walt, JJA van der Walt, AM Breedt (snr), MH Daling, JH Viljoen, AP Wever, PG de Waard, P Maritz
Voor vlnr: JC Venter, E Wever, MA Kruger, WH Steyn, dr CJH Venter, DJF Viljoen, AM Breedt (jnr), F van der Kooij, JJ du Plessis
STELLENBOSCH – WINGERD IN BOLANDSE GROND
CJH (Cassie) Venter
Enkele gedagtes oor my bedieningstyd (Mei 1981 tot Mei 1985)
By ‘n feesgeleentheid waartydens teruggedink word oor 50 bestaansjare, kom ‘n mens – en veral ‘n oudpredikant – so diep onder die indruk van God se hand wat instand hou en laat groei. Wingerdlote kan wel met sorg geplant word, maar God skenk die groeikrag en die volronde korrels aan die druiwetrosse.
Predikante en ampsdraers kom en gaan; hulle berei die wingerdgrond voor, hou die ontwikkelingsproses dop, sien die eerste ranke wat uitloop, maar dit is God wat die wingerdstok in vaste grond anker. Vir ‘n gemeente om hierdie groei- en instandhoudingswonder te kan meemaak – en veral om dit dankbaar te gedenk – is ‘n groot-groot voorreg.
Dit dan die groter raam – veral vanuit die perspektief van ‘n predikant wat ‘n rukkie in hierdie Bolandse wingerd kon werk. Maar as ‘n mens as oudpredikant terugkyk, dan is dit bloot menslik dat verskillende klein momente jou persoonlike herinneringe kleur.
Aankoms
Op ‘n herfsdag in Mei 1981 het ons die Klapmutsafdraai na Stellenbosch genader – ons was op pad na ons nuwe tuiste en werkterrein. En daar – aan die linkerkant onder die ry bloekombome het ‘n groep lidmate van Stellenbosch gestaan om ons te verwelkom. Wat ‘n byna ouwêreldse gebaar van welwillendheid!
En elke keer nog vandag as ek by daardie ry bloekombome verby ry, dan is die dag helder in my herinnering: die hartsverwarmende gevoel wat ons ervaar het om só deur medegelowiges verwelkom te word. En in ons huurhuis aangeland – so tussen die inpakkartonne – het Bertha Hayes vir ons ‘n ete gebring. Daar was géén neersitplek in die deurmekaar huis nie. Daarom het ons maar buitentoe beweeg, die asdrom se deksel omgedraai, die skinkbord daarop neergesit en met oorgawe geëet. Later het Fritz en Issie Ponelis opgedaag met ‘n oondwarm brood in ‘n wit linnedoek toegedraai. Sulke dinge vergeet ‘n mens nooit!
‘n Eie plekkie uitkerf
In ‘n sekere sin was ek tog seker maar ietwat lugtig om Stellenbosch, bastion van die NG Kerk, te betree. Ek het vooraf geweet dat die Gereformeerdes maar ‘n handjievol was, dat ons invloedsfeer beperk sal wees en dat die Gereformeerde Kerk dus op ‘n eiesoortige wyse sy plekkie in hierdie NG omgewing sou moes uitkerf.
Groot was my verrassing egter oor die besondere welwillendheid en kollegialiteit wat ons van die kant van die NG Kerk en die Kweekskool ontvang het. Prof Piet Verhoef en sy vrou was byvoorbeeld van ons eerste besoekers. En omdat Stellenbosch nog op daardie stadium in kombinasie met Strand-gemeente was, moes ek Sondagoggende eers in Stellenbosch preek en daarna in die Strand en saans weer in Stellenbosch. En in hierdie opsig het ons NG kollegas dikwels ‘uitgehelp’ deur sommige van die eredienste in die Gereformeerde Kerk waar te neem. Groot was my waardering ook toe die Kweekskool my betrek het by die aanbied van enkele modules in Pastoraal op M-vlak aan die Kweekskool. Op hierdie wyse het die kerklike verskille tussen Gereformeerdes en lidmate van die NG Kerk op ‘n natuurlike wyse na die agtergrond geskuif en het ons die gemeenskaplike van geloof in Christus aktief beleef. En vandag gaan hierdie samewerking nog voort. Ek evalueer gereeld proefskrifte en verhandelings wat geskryf word deur studente aan die Kweekskool en modereer ook soms die vraestelle vir Praktiese Teologie.
En ja, ons huis was natuurlik ook in ‘n buurt waar oorwegend NG lidmate gewoon het. Maar as die NG Kerk-lidmate ‘n wyksbyeenkoms gehou het, het hulle eers gevra of die datum ons sou pas en dan voortgegaan met die reëlings. Kan ‘n mens méér ingesluit voel in ‘n gemeenskap van gelowiges as dit?
‘n Uitgestrekte werksgebied
Omdat Stellenbosch-gemeente nog vir 18 maande in my bedieningstyd in kombinasie met Strand-gemeente was, het dit ingehou dat huisbesoek jou op ver paaie laat beland het – van tussen Grabouw se appelboorde tot aan die soom van die see. En LW – daar was onder andere twee gesinne in Grabouw, een gesin in Kleinmond, twee gesinne in Hermanus en een lidmaat in Bredasdorp wat besoek moes word.
Mariana het ook – behalwe vir die gereelde sustersvergaderings in Stellenbosch – die sustersvergaderings in Strand-gemeente bygewoon. Maar – Strand het hulle aandvergaderings alternatiewelik in die Strand en in Grabouw gehou. My hulp wat by my pas, het nog kans gesien om saans Strand toe te ry, maar as die vergadering die aand op Grabouw was, het ek haar maar vergesel op die tog oor Sir Lowry-pas na Grabouw. Sodoende het ek ‘n redelike goeie insig gekry in die manier waarop vroue dink en vergadering hou, hoe besprekings verloop en besluite geneem word. Vroue hou nie altyd by die reëls van vergaderprosedures nie, wag nie altyd vir ‘n spreekbeurt nie, wyk af van die agenda, maar een ding wéét ek: Vrouelidmate sorg dat hulle besluite uitgevoer word!
En dan net as ‘n tersyde – vroue kan ook vindingryke notules skryf. Die koster van Strand-gemeente het op ‘n stadium gekla dat die stofsuier defek is: dit blaas in plaas van suig. Die genotuleerde besluit na bespreking op die sustersvergadering het min of meer só gelui: Aangesien die stofsuier blaas en nie suig nie, gebruik dit dan liewer as ‘n haardroër!
Nadat van Strand-gemeente afgestig is, kon meer gefokus in Stellenbosch gewerk word. Bybelstudiegroepe in die verskillende koshuise was nog nie gevestig nie, en behalwe vir weeklikse opleidingsessies vir groepleiers was daar ook die Bybelstudiesessies in die koshuise saans.
Een van die eerste probleme was om ‘n geskikte tyd te kry om Bybelstudie in manskoshuise te hou. Ek het dit aan die studente self oorgelaat om op ‘n vergadertyd te besluit. Een van die manskoshuise lig my toe in dat eenuur hulle die beste sal pas. Ietwat uit die veld geslaan sê ek toe dat ons gesin gewoonlik eenuur eet. En dit was net daar dat hulle toe antwoord dat hulle eintlik bedoel eenuur die nag – 01:00! Ja, eenuur die nag, want dan is die meeste van hulle terug in die koshuis. Na heelwat oorreding het ek die studente sover gekry om die Bybelstudietyd terug te skuif na twaalfuur die nag. Maar nadat ek menige oggend om halftwee ons huis op my tone moes binnesluip, het ons die tyd vasgestel op elfuur die aand (23:00).
Maar Bybelstudie was nie altyd net erns en plooie op die voorkop soos diep nagedink word nie. Een aand toe ek in die koshuis kom, toe sê die studente dat hulle dié aand graag met my wil praat oor versoekings. My gedagtes het dadelik gewieliewalie want ek het gewonder waarmee ek nou te doen gaan kry. Om tyd te wen, het ek gesê: “Nou watter aspek van versoekings wil julle bespreek?”
Ek kry toe dié antwoord: “Oom Cassie, ons klomp het vir onsself ‘n filosofie oor versoekings opgestel.”
“O, en wat behels dié filosofie?”, het ek gevra.
Die blitsvinnige antwoord was: “Oom Cassie, ons het so gedink – as ‘n versoeking kom, vát hom. ‘n Versoeking kom dalk nie weer nie!”
Nou ja, en wie kan nou pastorale raad gee as studentespitsvondigheid sulke antwoorde gereed het!
Ons het ‘n sterk gees van samehorigheid in die gemeente ervaar. Die gemeente het gemaklik en maklik ingespring om iets gedoen te kry.
En dan dink ek onwillekeurig toe daar besluit is dat ons gemeente se tuin darem ‘n ordenende hand nodig het. Een Saterdagoggend het ‘n hele georganiseerde “arbeidsmag” opgedaag. Daar is gespit, gehark, gate gegrawe, beddings aangelê en bome en struike geplant. So tussendeur was daar genoeg koffie en vetkoek om die moraal hoog te hou. Aan die einde van die dag het die tuin sy manikuur en pedikuur gehad – en al die tuinbewerkers se stofbesmeerde hande was weer skoon gewas. En wat ‘n vreugde was dit toe die eerste asaleas en clivias later in die tuin begin blom het. En kyk hoe groot het die geelhoutboom voor die kerk intussen geword.
Dit het dikwels gebeur dat Jan du Plessis direk na die oggenddiens almal bymekaar maak om in Jonkershoek te gaan stap. En – het hy ons altyd verseker – dit is glad nie ‘n moeilike roete nie: bring die kindertjies saam. Ons is teen middagete weer terug by die huis. Maar wat ons nuwelinge nooit besef het nie, is dat Jan du Plessis se persepsie van ‘maklik’ en ‘nie ver nie’ hemelsbreeds van ons s’n verskil. Tot vandag toe nog sê Mariana dat sy by sulke geleenthede van Jonkershoek en die natuur weinig waargeneem het. Al waarvan sy bewus was, was dat haar skoene haar gedruk het, dat ‘n kind aan haar hand gerem het en dat die fiksste stappers keer op keer onder ons uit gestap het. Die voorpunt het dan in ‘n koeltekolletjie vir die res sit en wag en net as ons hulle ingehaal het, het hulle weer (vinnig) begin stap.
Maar van agterna gesien, was ook hierdie gemeentelike uitstappies ‘n bindende faktor en ‘n blywende herinnering.
En dan so ‘n tersyde in verband met prof Jan du Plessis – onder die studente was dit algemene kennis: prof Jan du Plessis hou nóóit vakansie nie. Die enigste manier waarop ‘n mens kon agterkom dat dit wel universiteitsvakansie was, was wanneer hy met ‘n kortbroek in plaas van ‘n langbroek by die universiteit opgedaag het.
Ek dink tog dat enige predikant sal sê dat wat hy van sy bedieningstyd onthou, nie slegs spesifieke bedieningsfasette is nie. Jou onthou van jou daarwees in ‘n gemeente is óók gegrond op die saamloop met mense.
So onthou ek hoe die Nagmaal in Macassar bedien is in ‘n beskeie voorhuis – klein en beknop. ‘n Klompie mense ingedruk in die klein ruimte. Ek en Mariana – en ek dink Bertha Hayes en Flos Rautenbach – was een dag deel van dié klein kuddetjie. En terwyl die beker in stilte aangestuur is en die brood gebreek is, klap ‘n geweerskoot buite in die straat. Hoe ironies: die evangelie van vergiffenis en vrede word binne in die huisie verkondig en buite woed die verskrikking van bendes en bendegeweld! Hoe ‘n groot dankbaarheid het ek nie steeds vir daardie Stellenbosch-lidmate wat in Macassar gaan werk het nie. En ook vir die lidmate in daardie bruin gemeenskap wat die Woord nederig-dankbaar ontvang het nie.
Student met ‘n bydrae vir my teologiese studie
In my bedieningstyd in Stellenbosch het ek vir ‘n paar weke met studieverlof na Nederland gegaan. En soos almal weet – vir teologiese studie was daar nie geredelik beurse beskikbaar nie. Maar ek was oorgehaal om hierdie studietydperk te gebruik al het dit koste meegebring. Een middag is daar toe ‘n onverwagte klop aan die voordeur. Toe ek oopmaak, staan ‘n student voor my met ‘n koevert. Sy woorde was: “Oom Cassie, ek het so ‘n groot beurs; ek gebruik nie eers alles nie.” In die koevert was ‘n paar banknote vir my. Ek was tegelykertyd verleë, dankbaar, maar veral sprakeloos, sonder woorde. Maar hierdie student het daarop aangedring dat ek die koevert in ontvangs neem. Hierdie paar note wou hy graag gee as ‘n bydrae vir my teologiese studie. Dit is een ook van die dinge wat ek nooit-ooit sal vergeet nie.
In ons tyd het ‘n standerdvyf-dogtertjie van ons gemeente ons somtyds Sondae op die klein orreltjie in die kerk begelei. Baie Sondae was die ou haartjies maar nog effe ongekam en die slaapkreukels het nog oor haar gesig gelê. Maar hierdie dogtertjie was heel opgewasse vir haar taak as “instaan”-orrelis. En wie sou nou kon raai dat dié Nina Schumann eendag ‘n befaamde konsertpianis sou word en op baie jeugdige ouderdom reeds ‘n professor aan die Konservatorium sou wees?
Praktiese wysheid en huisbesoek
Natuurlik moet daar ook by die predikant huisbesoek gedoen word en met hoeveel waardering dink ek aan daardie ouderlingbesoeke. En sommige gedagtes wat hierdie ouderlinge by jou tuisgebring het, bly jou ook jou hele lewe by. So het ons baie jeugdige ouderling op ‘n keer op ‘n baie praktiese manier die noodsaak van aktiewe geloof tydens huisbesoek aan ons verduidelik. “Ja, oom Cassie en tannie Mariana. Oor geloof kan ‘n mens só dink. Geloof is soos ‘n fiets. As jy ‘n fiets eenkant teen ‘n muur staanmaak, beteken dit niks. As jy ‘n fiets nie gereeld gebruik nie, gaan jy afval as jy skielik probeer ry. Maar as jy daardie fiets elke dag gebruik, dan besef jy nie eers meer dat jy stuur en balanseer nie. Al waarvan jy bewus is, is dat jy vorentoe gaan.” Is dit nou nie praktiese geloofswysheid in ‘n neutedop nie? En dit komende uit die mond van ‘n baie jong man!
Ek het my bedieningstyd in Stellenbosch as vormend, opwindend en vol genade ervaar. En in hierdie volheid en geskakeerdheid kon Mariana, Hanli en Cassie (jnr) óók elkeen op ‘n eiesoortige manier deel.
Ek dank die Here dat dit my gegun was om vir ‘n paar jaar spesifiek in hierdie wingerd in die Boland te kon werk. God self het verseker dat nuwe lote uitspruit en die druiwetrosse ryp word in die son en reën van sy genade. Soli Deo Goria!