50 jaar Gedenk bundel – Betekenis van die herdenking

Waarvandaan belydend en waarheen reformerend?

Wat was die betekenis van ons herdenking van 50 jaar se Gereformeerd-wees in Stellenbosch? Ek het gewonder of dit bedoel was om ‘n groot nostalgiese okkasie te wees of eerder ‘n beskeie viering en geleentheid vir besinning? Ek dink die antwoord op hierdie vraag word duideliker noudat ons kan terugkyk op die viering en sien dat dit ‘n spesiale geleentheid vir groei was.

Die historiese konteks van die viering is buitengewoon betekenisvol weens verskillende redes:

  • Die globale herdenking van die 500 jaar van die Reformasie van 1517 waaruit ons kerk voortgekom het. Die boodskap van die Reformasie is bevorder deur die Renaissance en die uitvinding van die boekdrukkuns wat die Bybel in die volkstale beskikbaar gemaak het. Die vyf reformatoriese beginsels is nog steeds geldig en vra vir gedurige aandag, naamlik: Soli Deo Gloria (alleen die eer aan God); Sola Scriptura (slegs die Skrif); Solus Christus (slegs Jesus Christus); Sola Gratia (slegs die genade); Sola Fide (slegs geloof). Ons is deel van ‘n groter familie van Christene, maar met ‘n eie teologiese benadering en roeping.

 

  • In die stigtingsjaar van die GKSA Stellenbosch, 1967, was die Afrikaanse ‘susterkerke’ vasgevang in die greep van die Christelik-nasionale ideologie van apartheid, maar sedert 1990 het ons geleentheid gehad om daarvan verlos te word – dit stel ons voor ‘n voortdurende opdrag om te reformeer en krities te wees op die ideologie van die dag. Ons tyd word gekenmerk deur die digitale revolusie en die besinning oor magsverhoudings wat nuwe moontlikhede bied vir die verspreiding van die boodskap van vryheid vanuit die evangelie.
  • Op ‘n menslike tydskaal is ons bestaan van vyftig jaar nog ‘n redelik oorsigtelike periode, maar tog gebeur daar baie in so ‘n tyd en dit is duidelik dat elke tyd sy eie kenmerke het. Die mees onlangse gebeurtenis in ons gemeente is die afskop van die Koreaanse internasionale bediening in ons gemeente onder leiding van ds. Yohan Kim (van Japan en oorspronklik van Suid-Korea) in ‘n tyd dat internasionale verkeer genormaliseer is en mense van die uithoeke van die aarde af na Stellenbosch kom. Om uitdrukking te gee aan ons dankbaarheid vir die Here se seën oor 50 jaar is ‘n Oorloop-dankbaarheidsfonds gestig wat spesifiek vir uitreik-aksies gebruik sal word.

In ons selgroep het ons gesprek gevoer oor die herdenking en ek noem graag ‘n paar gedagtes wat daar na vore gekom het:

  • In 1967 was die eerste byeenkomste van die gemeente in die Hofmeyrsaal in Kerkstraat met ds. Bouke Spoelstra wat as prediker vanaf Bellville dienste gelei het. ‘n Eie kerkgebou en vyf predikante het gevolg, elkeen met sy eie styl en gawes. Stellenbosch-gemeente was gelukkig om dominees te hê wat elkeen op sy eie manier vernuwing en geestelike verdieping gebring het.

 

  • Die dominees was vernuwend binne die kerkverband, bv. ten opsigte van nagmaalviering, sang en die verhouding met ander kerke. Die gemeente het ‘n geestelike tuiste gebied vir ons eie studente, maar ook studente uit ander kerke en van hulle het later diakens geword. Sommige predikers uit die NG en Hervormde kerke het op ons kansel Woordverkondiging gedoen.

 

Die betrokkenheid van die lidmate by die kerklike aktiwiteite en die organisasie van die gemeente het in die loop van die tyd natuurlik gevarieer. Lede van my selgroep wat lank in die gemeente is onthou byvoorbeeld hoe hulle betrokke was by katkisasie en eredienste in Macassar en hoe daar met ‘n speelgroepie in

  • Kayamandi uitgereik is. In die onlangse jare, weer, is daar ‘n reeks uitreikkampe waaraan veral die studente deelneem.

 

  • Die organisering van die aktiwiteite van die gemeente in leivore het ‘n sterk struktuur geskep vir deelname en gebruik van die gawes in die gemeente.

Kees van der Waal

 

Volgende ->

<- Terug