In 2005 het die Kerkraad onder leiding van ds Fanie Grobler besluit om saam met gemeentelede ʼn strategiese beplanning aan te pak, en dr Flip Buys is genooi om as fasiliteerder op te tree. Die beplanning het op Saterdag 8 Oktober 2005 plaasgevind. Die doel was om te bepaal waarheen die GK Stellenbosch oppad is en ʼn visie te formuleer wat nagestreef kan word en wat kan ontwikkel in bereikbare doelwitte en werkbare strukture.
Dr Buys het die verrigtinge amptelik begin met ʼn aanbieding waarin ons as kerk van Jesus Christus onsself krities kan bekyk met die Bybel as spieëlbeeld. Daar is later ook ʼn tipiese SWOT-analise (sterkpunte/swakpunte/geleenthede/bedreigings) van ons gemeente gedoen.
Met die uitkomste van die analise is ʼn visie geformuleer:
ʼn Leivoor van God se liefde vir mekaar, na die wêreld,
tot eer van God en tot uitbreiding van sy Koninkryk
Die simboliek van die ‘leivoor’ was ʼn maklike keuse aangesien ons kerkgebou geleë is in ʼn gebied in Stellenbosch waar verskeie waterleivore voorkom.
Vir elke leivoor was daar ʼn sameroeper en lede “om die leivoor te grawe en aan die vloei te kry”.
In 2006 was die missie van die ses leivore soos volg geformuleer:
Sluit in die organisasie van wyke en kleingroepe asook erediensbeplanning (liturgie, sang, atmosfeer en versierings soos blomme en die kanselkleed, adventsdiens). Voorstelle sluit in meer aandag aan jeugbediening op kleuter-, skoolgaande-, en studente-vlak. Spesifiek ten opsigte van katkisasie (skoolgaande) en ontspanning (almal), asook die moontlikheid van ʼn “Stellenbosch Pa & Ma” vir studente en die aanmoediging van meer studente deelname.
Leivoor vir Geestelike toerusting
Toerusting gemik op ouderlinge, diakens, bybelstudie-leiers, gemeentelede en gemeenskap in die breë. Spesifieke voorstelle sluit in die organisasie van toerustingskampe soos byvoorbeeld ʼn huwelikverrykingsnaweek, asook die daarstel van ʼn hulpmiddel biblioteek (boeke, video’s ens.).
Ds van Heyningen het die Bedienings- en Geestelike toerusting Leivore saamgevoeg wat slegs die Leivoor vir Bediening genoem word, aangesien daar oorvleueling was en dit tipies tuishoort by die predikant se portefeulje.
Doelwit is om 95% van die gemeente op ʼn gereelde basis te bereik. Voorstelle in verband met huidige middele is meer effektiewe gebruik van die nuusbrief, gebedsversoeke (e-pos lys) en kalender (wat byvoorbeeld die kerklike jaar aandui) asook die webblad (byvoorbeeld skakel met universiteit en die ontwikkeling van ʼn elektroniese registrasie proses vir nuwe studente). Nuwe voorstelle sluit in meer gereelde kontak tussen die kerkraad en die gemeente (spesifiek meer terugvoering voor en na gebeure, asook beskikbaarheid van ʼn versoek/terugvoerboks), die registrasie en gebruik van spesifieke e-pos adresse vir elke leivoor.
Leivoor vir Warmhartigheid (Diakonie)
Sluit organisasie van gemeenteaksies soos die nagmaalete en kampe in en skakel nou met beide bediening en evangelisasie. Nuwe voorstelle sluit in die aktiewe verwelkoming van nuwe gemeentelede en besoekers by die eredienste, georganiseerde (aanvullend tot diakens, rol hier vir studente) siekebesoek en versorging, betrokkenheid by ʼn sopkombuis en ontwikkeling van mentorskap-verhoudinge tussen studente en werkende lidmate.
Voortsetting van huidige projekte (Mitchells Plain, Indië, Smal- en Breëwegplakkate, Kayamandi kleuterskool, Internasionale studente- &
Straatkinderbediening). Voorstelle vir nuwe projekte sluit in die bereiking van plaaswerkers en toeriste asook die bou van ʼn nagskuiling.
Op twee vlakke: eerstens ten opsigte van alle gemeente-aspekte en tweedens ten opsigte van finansies.
Briefhoof
ʼn Briefhoof is deur Elizna Venter ontwerp wat deur die Kerkraad goedgekeur is, en wat onder andere ook by ander publikasies van ons gemeente gebruik word:
Die simboliek van die briefhoof kan soos volg omskryf word:
‘n Leivoor kan strek van ʼn onsigbare stroompie wat ʼn woestynplant (Welwitcia) aan die lewe hou tot ‘n borrelende fontein wat sy walle oorstroom en neerstort in ‘n waterval op Stellenboschberg. God se genade strek ver en wyd en is nie net beperk tot Stellenbosch en omgewing nie. Indien hierdie leivoor van God vol en breed vloei, neem die ruigte van die plante langs die stroom toe en selfs die delikaatste varinkie en die fynste mos oorleef. Mag hierdie gemeente se leivoor ʼn fontein word wat oorloop van God se liefde vir mekaar tot eer van sy Naam en tot uitbreiding van sy Koninkryk.
Die ontwikkeling van die Leivore en sy werksaamhede soos dit nou daaruitsien (2017) kan nagespeur word in die nuutste Inligtings- en Gemeentegids.
Annemarié Maritz