50 jaar Gedenk bundel – Gemeentekampe

Gemeentekampe speel ‘n baie belangrike rol in die smee van vriendskappe en hegter verhoudings. Dit is altyd ‘n belangrike datum  op die gemeente kalender om na uit te sien. Die kampe is goed georganiseerd en op verskeie natuurskoon-plekke gehou. Jan en Hildegard du Plessis was `n groot dryfveer agter die kampe en het met baie ywer, energie en goeie beplanning daarin geslaag om die gemeente op dié wyse tot ‘n hegte eenheid saam te bind.

Die kamp etes is altyd baie lekker met gesellige voorbereidings, potjies wat prut, asado skaapbraai, snoekbraai en almal wat hand bysit.

Behalwe die lekker kos is ons ook met geesteskos gevoed gedurende sessies oor verskeie verrykende onderwerpe.

Die kampe word in pragtige omgewings gehou met goeie geriewe en baie geleenthede om in die natuur te kan wees. Al die kampterreine is mooi en gerieflik met `n saal as vergaderplek. Die hoofsaak van elke kamp is die mense wat warmte, lewe en samesyn na die kamp bring.

Om enkeles te noem:

Sederberge: Wat ‘n voorreg was dit om die Woord op ‘n Sondagoggend tussen die hoë pieke van die berge te kon aanhoor. ‘n Groot groep van ons het die vorige dag deur die Wolfbergskeure gaan klim. Die Stadsaalgrotte is ook besoek.

Palmiet: By een geleentheid is Oor die Vlaktes van DJ Opperman voorgelees en tot groot genot van die kampgangers deur enkele van ons opgevoer.

Biedouwvallei: Dit was ver om daar te kom, maar om die wonder van God se blommelof  oor die berge en vlaktes te kon beleef was ‘n belewenis.

Ruskansie in die Biedowvallei met Francis van Jaarsveld aan die woord

Gedurende een van die kampe het ons ‘n huweliksverrykingskursus deurgewerk met knieë teenmekaar en deur jou anderhelfte in die oë te kyk.

Dwarskersbos 2012

Dwarskersbos: Ons was verskeie kere na dié kusdorpie wat al amper soos tuiskoms begin voel het. Hier het ons Bybelvasvrae , ‘n kompetisie met klei-uitbeeldings van bybelse temas gehou, op die strand gaan stap en ook lekker konsert gehou. By een geleentheid is Rooikappie deur die kinders, daarna jong mense en uiteindelik deur die ouer garde opgevoer tot groot vermaak van almal. Baie van die mense het hier ook in karavane en tente gekamp.

Disakloof: Lekker naby om daar te kom, maar tog in die mooi natuur met die kloof en rivier waarin ‘n paar van ons lekker kon lyf nat maak.

Mooi Hawens by Bettysbaai het huisies-slaapplek gebied en daar kamp mens amper op die strand.

‘n Skaakspel met Koos van Zyl en Kees van der Waal
onder hande. Mooi Hawens 2013

Sonja van Zyl

Volgende ->

<- Terug