50 jaar Gedenk bundel – Ds Alwyn du Plessis

In 1987 volg ds AJ (Alwyn) du Plessis vir ds Herman Venter op.

BEDIENINGSTYD DS A J DU PLESSIS 1987 – 1997

My bedieningstyd in Stellenbosch moet in twee verdeel word: Die eerste was vanuit Bellville toe die Gereformeerdes in plekke soos Stellenbosch, Strand, Kleinmond en andere, lidmate van Bellville was.  Die tweede betrokkenheid by Stellenbosch was vanaf begin 1987 tot my emeritering einde 1997. Na emeritering het ons in Stellenbosch bly woon tot op hede.  Alles tesame, ʼn verbintenis van ten minste 32 jaar!

 

 

 

 

 

 

 

Ds Alwyn du Plessis en sy vrou Bessie.

 

 

Entoesiasme

Entoesiasme vir ʼn saak word gewoonlik met baie moeite en selfs truuks opgewek. Vir my was die Gereformeerdes van Stellenbosch en omstreke se entoesiasme om tot afstigting oor te gaan, iets wat my altyd bygebly het. Die visier ingestel op afstigting het nie in my tyd gebeur nie. Dr Bouke Spoelstra, wat voor my predikant in Bellville was, het toe reeds al aan hierdie doelwit gewerk.  Die gewone verantwoordelikhede van ‘n gemeente, soos funksionering van ouderlinge en diakens, adviserende besluitneming oor eie sake, hantering van eie finansies, kategese, sustersorganisasie ens, het geleidelik ontwikkel. Grond vir ʼn toekomstige kerkgebou was reeds aangekoop. Eredienste is gereeld Sondae-namiddae gehou. Voor my tyd is die eerste dienste in die CSV-gebou in Pleinstraat (waar ABSA vandag is) gehou. Soms moes ons rondtrek van een plek na die ander: Erfurthuis (Ryneveldstraat), Kerkhuis (langs die Moederkerkgebou), en later gereeld in die Hofmeyrsaal in Kerkstraat.

Ons het te alle tye hulpvaardigheid van almal ten opsigte van plekke vir eredienste, ervaar.

Omdat die herderlike bediening vanaf Bellville moes geskied, was dit nogal veeleisend. In daardie tyd het die lidmatetal in Bellville buitengewoon vinnig gegroei, terwyl die gebiede rondom Vredenburg en Saldanha ook in Oktober 1964 onder Bellville se sorg geplaas is. Veeleisend? Ja, maar ek sou nie die vreugde en vrugte daarvan wou mis nie.

Op 16 April 1967 het die afstigting van Stellenbosch (insluitende Strand/Somerset-Wes, Kleinmond, ens.) toe plaasgevind. Na die nodige formele sake afgehandel is, het die impulsiewe Oom Hein Hamersma opgespring met die kwasi-verwyt teenoor my: “En nou los jy ons sommer net so!” Ja, die liefdesband tussen ʼn herder en leraar en die gelowiges vir wie hy met die Evangelie moet bedien, kan hartseer veroorsaak as dit verbreek word.  Die nuwe gemeente het my toe beroep (dalk om my nie sleg te laat voel nie!), maar ek kon die beroep uiteraard nie opvolg nie. Min het ek geweet wat nog sou gebeur.

Tye wat almal toets

Wat ek in 1964 nie geweet en verwag het nie, het toe gebeur. Na 13 jaar langs die Mooirivier (Potchefstroom-Noord), trek ons in 1987 langs die Eersterivier in. Die Eersterivier se waters was by tye – kerkgewys gesproke – taamlik rof.

Stellenbosch het op daardie stadium finansiële ondersteuning ontvang, terwyl ek gedink het dat dit nie nodig behoort te wees nie. Deur werk te maak van offervaardigheid, het dit gou beter gegaan.

My bediening in Stellenbosch het in ‘n tydperk geval wat sonder oordrywing beskryf kan word as ‘n aardskuddende verskuiwing wat feitlik elke faset van die samelewing geraak het, die kerk nie die minste nie. Die land is geteister deur onrus en opstandigheid onder die gekleurde mense, onder die blankes het die besef by baie mense gevestig geraak dat Suid-Afrika polities en staatkundig op die verkeerde pad

  1. Ander het weer hewig daarvan verskil. Terselfdertyd het kritiek teen die kerke toegeneem. Die kerke, veral die Afrikaanse kerke, moes die blaam vat – grootliks ten regte – dat Christene mislei is.

‘n Gees van onvergenoegdheid oor besluitneming van veral die Nasionale Sinodes van die GKSA, het sigbaar geword in die Stellenbosch gemeente. Die spanning as gevolg van onsekerhede het ʼn negatiewe uitwerking gehad op verskeie lidmate, wat die versoeking nie kon weerstaan om in groepverband mekaar warm te praat nie. Bygesê, ʼn vlaag van ‘n aggressiewe vorm van die beweging vir vroueregte het ook oor ons kerkakker gewaai. Ek kon nooit agterkom wat regtig die ontevrede mense se doelwitte was nie. Dit is nooit op ʼn redelike, rustige wyse geformuleer nie. Die eindresultaat van so ʼn byna ongedefinieerde ontevredenheid is gewoonlik dat mense die kerk verlaat, al het almal nie deelgeneem aan een of ander ‘aksie’ nie. Dit het ook hier gebeur, nie op ʼn enigsins groot skaal nie. Die ‘charismatiese beweging’ soos dit breedweg bekend staan, het by alles ook nog meer as ʼn briesie oor die kerklike erf gestoot. Tye wat ʼn mens se geloof en jou roepingsbewustheid deeglik toets. Die Here het ons deur hierdie tye gedra.

Gedurende die tyd voorafgaande aan die politieke skikking het ek ʼn vrugbare en verrykende verbintenis gehad met ʼn liggaam wat kerkleiers en ander gelowiges gevorm het om die woelige waters van daardie tyd ietwat meer navigeerbaar te maak: Die Raad vir Kerklike Samewerking (RKS). Die doel was om Christenleiers en deur hulle, ander Christene, in kontak met mekaar te bring ten einde begrip vir mekaar en sodoende goeie verhoudinge te bevorder.

Verandering

My bedieningstyd in Stellenbosch het saamgeval met ʼn sterk begeerte by baie lidmate oor die land dat daar verandering in die Gereformeerde Kerke moes kom. Dié begeerte het nie altyd saamgegaan met ʼn duidelike bepaling oor wat en hoe verandering moes plaasvind nie. Gewoonlik is die dictum: semper reformanda-(altyd reformeer) soos ʼn vaandel fier omhoog gehou. Onderlangs het lidmate vir mekaar gesê: “Maar ons is mos klaar gereformeer.”

Een van die grootste redes vir die stagnasie in die kerke was dat ons onsself geïsoleer het van ander kerkgemeenskappe wêreldwyd en hulle teologieë met die aanklag dat hulle liberaal is en onskriftuurlike besluite neem en so optree.

Stellenbosch se Gereformeerde Kerk was meer oop vir ander wyses van denke en optrede. Hierdie gees is deur ander vóór my geskep, en ek wou daarmee voortgaan. Dit beteken nie dat enige nuwe standpunt of praktyk vir soetkoek opgeëet sou word nie, maar alleen na grondige oorweging waarby die gemeente kon inkoop. Terselfdertyd wou ons nie optree soos ‘n avant-garde van jukskeibrekers wat vergeet dat ons deel van ‘n gemeenskap van plaaslike kerke is nie. In dr Amie van Wyk se tyd reeds is uitgekose Teologiese Kweekskooldosente genooi om eredienste hier te lei, en dit in weerwil van ‘n Sinodebesluit wat dit verbied het. Gedurende die era toe die wyse van Nagmaalviering onder diskussie was, het ons deeglik met die gemeente in pastorale gesprekke daaroor gepraat. Die resultaat was ʼn Nagmaalviering aan die tafel(s) met die beker maar ook met kelkies wyn/sap wat met die omgang van die beker geneem kon word. Daar was geen onrus in die gemeente daaroor nie. Ons het ons praktyk gemotiveerd voor die Klassis gebring vir kennisname ter wille van ons verband met die ander kerke. ʼn Beskrywingspunt wat ons voor ‘n Nasionale Sinode gebring het om die deels uitgediende toets vir geskikte liedere vir die erediens, naamlik dat sodanige liedere uit die Skrif berym moes wees, te verander om ook liedere in te sluit wat in ooreenstemming met die Skrif is, het gesneuwel. Vandag lag ons daaroor, maar met ʼn huilknop in die keel. Intussen het ons begin om ook liedere voor die erediens te sing wat ons as Skriftuurlik beoordeel het. Begeleiding van eredienssang het dikwels met trompet of viool geskied.

In ʼn gemeente waar manslidmate om verskeie redes nie altyd beskikbaar was om as ouderlinge en diakens diens te doen nie, en studentedames in koshuise besoek moes word, het ons geskikte vrouelidmate gevra om die genoemde dienste te doen. Die aanbieding van ‘n Ontdek jou Gawes kursus het gehelp om geskikte mense te identifiseer.

Die afloop van twee opeenvolgende beskrywingspunte by Nasionale Sinodes wat die Kerke voor die gewetensvraag geplaas het of die GKSA met sy jarelange behandeling van ‘Volkereverhoudinge’, in sy besluitneming nie die staatsbeleid van ‘apartheid’ ondersteun het nie, was vir my ontnugterend. Met vreemde motivering het twee sinodes geweier om skuld te erken ten opsigte van ondersteuning van apartheid.

Kerkraad met Diakens van GK Stellenbosch – April 1992

Agter vlnr: D Bezuidenhout, JH Venter, H Turkstra, F du Plessis, JH Opperman, MJ Kamper, T Scribante, F White, PB Hayes
Middel vlnr: C Wϋst, JJ du Plessis, H Turkstra, JJA van der Walt, JN Horn, ID van der Walt, NP Prinsloo, PG de Waard, M Henning
Voor vlnr: WH Steyn, JS Nel, FA Ponelis, JA du Plessis, ds AJ du Plessis, CJH Venter, JH Viljoen, SJ van der Walt, W Amoraal

Die gees in die gemeente was ten spyte van alles, nie só neerdrukkend nie. Heerlike gemeentekampe is jaarliks deur ondernemende lidmate gereël.

 

Gemeentekamp in die Cederberge in ds Alwyn se tyd
Jan du Plessis, Tertia en Herman Steyn besig met rotsklim

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Jonkershoek uistappie einde 1980’s saam met ds Alwyn en Bessie

Baie aandag is aan studente gegee, nie alleen deur kampe, stigting van Bybelstudiegroepe, uitnodigings na lidmate se huise nie, maar veral

indiwiduele en groepsgewyse pastorale besoeke van ouderlinge en die predikant. Trouens, persoonlike pastorale besoeke aan elke lidmaat, veral ook die wat wegdwaal, is na my oortuiging onvervangbaar. Ons Here Jesus Christus het afgedwaaldes gesoek.

Sendinguitreik na Transkei. Junie-Julie 1990

Verfrissend was die inisiatief (soos ek dit onthou, van die jongmense self) om op ʼn sendinguitreik na die Transkei te gaan. ʼn Eerste van hierdie aard. Dit was nie alleen vir die studente verruklik en geestelik opbouend nie, maar die gemeente is ook entoesiasties meegevoer. Die praktyk is enkele jare volgehou totdat dit te duur geword het. ʼn Vlam is egter aangesteek wat bly brand het.

Stellenbosch het ook die hand van liefde en geloofsgemeenskap uitgesteek na die Gereformeerde Kerke in woongebiede waar bruin en swart mense woon. Hulle is genooi vir bywoning van eredienste in Stellenbosch, geleenthede wat van alle kante waardeer is. Hier is nooit mense van kleur (hoe sê ʼn mens dit anders?!) afkeurend behandel nie.

Alles in één opslag: Die vreugde en dankbaarheid teenoor die Here dat ek my dienswerk as predikant hier kon uitvoer oortref by verre die ongemaklikhede wat ons soms ondervind het. Dit was werklik “amazing” in die ware sin van die woord. Ja, verstommende genade! Dat ek na emeritering vir ongeveer 5 jaar in Hermanus ook nog kon dien, en in Stellenbosch kon help in die maande tussen die afskeid en bevestiging van predikante wat na my hier gewerk het, het my beker net meer laat oorloop. Lof aan my Vader en Jesus Christus ons Here en die Nuutmaker, die Heilige Gees.

Volgende ->

<- Terug