Die Gereformeerde Kerk Stellenbosch, in kombinasie met Paarl gemeente, beroep vir dr Christi (JC) Coetzee as die eerste predikant wat in Paarl woonagtig sou wees.
GK Stellenbosch eerste kerkraad van 1967/68
Voor vlnr: SJ van der Walt, CJH Venter, SP Korkie, dr JC Coetzee (1968-1970), GJ Swanepoel, JLM Wiechers, SJPK Bezuidenhout
Agter vlnr: E Wever, PH Muller, GMM Erasmus, N van der Walt, RF Berg, N Snyman, JC Venter (Afwesig: G Schoeman, MJ Strydom
In Mei 1967 word die eerste sustersvergadering by Ins van der Walt (voorsitster) se huis , te Berglaan 17, Stellenbosch gehou. Daar word besluit om 6 dosyn koppies en pierings, 6 suikerpotte en 6 dosyn teelepels aan te koop Suster Biggs Bezuidenhout word gelukgewens met die geboorte van haar dogter wat dan ook die eerste dopeling in die gemeente was.
Nog ‘n dopeling in die Hofmeyrsaal, was Johannes Christiaan Venter (links), gebore op 20 September 1968 (seun van Chris en Elsa Venter).
Voor afstigting word die grond, met ʼn skuurtjie op, gekoop waar die GK Stellenbosch se kerkgebou tans vandag in Maraisstraat en oorkant STIAS staan. Daar is eers oorweeg om die skuurtjie te restoureer terwyl die eredienste nog steeds in die Hofmeyrsaal gehou is.
Sarel van der Walt vertel dat tydens die beplanningsfase van die kerkgebou bevind was dat die posisie van die westelike grens nie ooreen gestem het met die munisipale dorpsuitleg nie. Na ʼn ondersoek kom dit toe aan die lig dat die grens sodanig verskuif is dat die grootte van die erf op daardie stadium aansienlik kleiner was as wat die oorspronklike bedoeling van die munisipaliteit was. Die Universiteitsowerhede is toe genader met die versoek dat die oorspronklike grens weer aanvaar moet word. Die Universiteit was egter onwillig omdat die sogenaamde nuwe grensdraad alreeds vir 30 jaar in sy posisie was. Dr JS Gericke, die NG predikant van die NG Moedergemeente, was die Gereformeerdes goedgesind en na ʼn gesprek tussen dr Gericke en die Universiteit is die grensdraad na die oorspronklike posisie terug verskuif.
Na ‘n besoek aan Vergelegen, Somerset-Wes deur Sarel van der Walt, wat die sameroeper van die Terreinkommitee was, word daar besluit om kamferbome vir skaduwee vir die parkeerterrein aan te plant soos lidmate versoek het.
ʼn Boukommissie word aangestel waarvan Johan Malan die voorsitter was. Chris van der Walt, Sarel van der Walt en Casper Venter was van
die ander lede van die Boukommissie. Die Kerkblad publiseer ʼn artikel saam met ʼn perspektieftekening van die beoogde kerkgebou. So word harte aangeraak om by te dra vir die boufonds. Suster Cora Hamersma van Kaapstad het groot bedrae vir die Boufonds geskenk. Ook die susters dra ʼn R1000 by wat hulle deur die straatmark se verkope gemaak het. Om te dink dat ʼn sjokoladekoek jou net 80c gekos het en ʼn dosyn koeksisters net 30c. Om ʼn R1000 deur verkope te maak; sou daar 1250 sjokoladekoeke of 1333 dosyn koeksisters verkoop moes word. Elsa Venter onthou hoe Johan Malan, Andries Breedt, asook ander, in samewerking met PA Venter van Worcester van die houtfabriek ‘Shopfitters’, opvoubare tafeltjies en stoeltjies gemaak het wat verkoop is ten bate van die boufonds en dat Johan en Monica Malan die doopvont geskenk het.
Die eerste uitgrawings ontbloot die wit spoelklippe van die oeroue bedding van die Eersterivier, ongeskik om op die gewone wyse daarop te bou. Die finalejaar studente van die Departement van Siviele Ingenieurswese van die Universiteit van Stellenbosch ontvang die probleem as ʼn ontwerp-opdrag. Hulle het goeie werk gedoen, want die A-raam kerkgebou staan vandag nog stewig. Koos van Zyl, nog altyd in die gemeente gemoeid met die kerk se eiendomme, was een van die span studente.
Die A-raam kerkgebou met sy beskeie toring, reghoekige gehoorsaal met hoë gewelf, sitplekke vir 350 mense en galery vir die orrel met ekstra sitplekke word met groot vreugde en dankbaarheid (saam met die onthulling van die gedenksteen deur Sr Cora Hamersma) op 17 Oktober 1970 in gebruik geneem.
Pauw en Green argiteksfirma het die gebou ontwerp. R Beamish was die bouaannemer en PA Venter, die eienaar van die houtfabriek ‘Shopfitters’ in Worcester, het die meubels vervaardig.