Op 22 April 1973 is die verbintenis tussen Paarl en Stellenbosch beëindig en vir die eerste keer beroep GK Stellenbosch selfstandig hulle eie predikant, dr Amie (JH) van Wyk. Hy bedien Stellenbosch/Strand gemeente tot en met Strand se afstigting in 1978 waarna hy net Stellenbosch se predikant word.
Die Kerkraad met Diakens van GK Stellenbosch 1976
Agter vlnr: P Maritz, AS Cloete, W Amoraal, B Fourie, JW Chapman, JJA van der Walt, F Broeze, PM de Klerk, S Coetzee, NF Nel, MPJ van Staden
Middel vlnr: G Oosthuizen, H Jooste, CF Quass, WP Venter, H Klapwyk, JJ du Plessis, JC Venter, HPJ Labuschagne, M van Vuuren, J Niesing, RR ter Haar
Voor vlnr: SJ van der Walt, P Snyman, DJF Viljoen, DC Liebenberg, dr JH Van Wyk (Predikant), B Touwen, AM Breedt, JP Hayes, G ter Haar Afwesig: SJP de Weerdt, RS du Plessis
HERINNERINGE AAN STELLENBOSCH 1973-1981
Dr JH (Amie) van Wyk
Toe ek as eerste voltydse predikant in Stellenboschgemeente in 1973 bevestig is, was die Gereformeerde Kerk ʼn redelik onbekende verskynsel in die Boland, ook in Stellenbosch. Soos ʼn NG-tannie dit (goedbedoel) uitgedruk het: “van al die sektes waarvan ek al gehoor het, hou ek nog die meeste van die Doppers!” Om van ‘hoogtepunte’ in die bediening te praat, sou verkeerd wees, want die hele bedieningstyd van agt jaar (1973-1981) was vir my ʼn hoogtepunt. Trouens, ek het die bediening in Stellenbosch so bevredigend gevind, dat ek vir Ria by geleentheid gesê het: “Weet jy, ek wens ons kan eendag hier aftree.” Die omgewing was immers soos onbeskryflik mooi en die mense so vriendelik en meelewend. Die Here het egter besluit om ʼn ander pad met ons te loop.
Prof JH (Amie) van Wyk, sy vrou Ria en hulle kinders, Jan en Marietjie (1973-1981)
Dit was ʼn dinamiese bedieningstyd vol verrassings en wendings. Die kerkraad het byvoorbeeld op grond van ʼn studierapport besluit dat die dra van hoede deur die susters opsioneel is en daarna het weinig susters nog van hoede gebruik gemaak. Stellenbosch was ook die eerste gemeente in die GKSA wat in 1975 ʼn bruin dominee (Aubrey de Leeuw) uitgenooi om daar te preek. So ook is NGK professore uitgenooi om die Woordbediening waar te neem, soos onder andere professore PA Verhoef en WD Jonker. Ook is bruin lidmate van Macassar by geleentheid in die erediens verwelkom. Dit klink vandag vreemd om na hierdie dinge as uitsonderlik te verwys, maar in die sewentigerjare van die vorige eeu was dit alles buitengewoon en opspraakwekkend.
Die sendingwerk in Macassar het klein begin maar gaandeweg vorm begin aanneem en uitgegroei.
Wat altyd ook baie aangenaam was, was die JV-uitstappies met die jongmense in die Bolandse berge. Ek herinner my dat die Bolandse JV my by geleentheid versoek het om hulle oor ‘n moeilike onderwerp soos die uitverkiesing toe te spreek. Ek het toe sterk klem daarop gelê dat die uitverkiesing nie buite Christus om benader moet word nie Eenmaal per maand het ek ook by die rehabilitasie-oord vir drankverslaafdes (naby die N1) ‘n boodskap gebring en het die besoeke en gesprekke daar baie stimulerend en verrykend gevind. Dit was ‘n gemeenskappie van mense wat gesoek het na rigting en ‘n nuwe lewe.
Jongeliede Verenigings Bondsbestuur van Kaapland
met dr Amie van Wyk 1979
Dit was vir Ria ook aangename jare, hoewel sy dit moeilik gevind het om van Johannesburg-Sentraal afskeid te neem. As voorsitster van die susters het hulle vele aksies geloods en ook baie fondse ingesamel. Een jaar het die susters ook die saamtrek van Bolandse susters georganiseer en professore WJ de Klerk en WD Jonker uitgenooi om voordragte te lewer.
GK Boland se susterssaamtrek in NGK Welgelegen wat deur
Stellenbosch se susters aangebied was op 11 Maart 1978
Ander belewenisse en gebeure wat ek kan onthou is die volgende:
‘n Groot oomblik was die afstigting van die Strandgemeente 1978 met 90 belydende en 56 dooplidmate, totaal 146. In Stellenbosch het 186 belydende en 82 dooplidmate, totaal 268, oorgebly. Toe ons in 1973 in Stellenbosch gekom het, was die totale lidmatetal 302, 196 belydende en 106 dooplidmate. In 1981, met ons vertrek uit Stellenbosch, was daar 200 belydende en 82 dooplidmate, totaal 282. Na die afstigting van Strand in 1978 het die twee gemeentes ʼn kombinasie gevorm en het ek beide bedien totdat Strand ʼn eie predikant beroep het.
Na die studente-opstande van 1976 het Klassis Boland ʼn kritiese getuienis aan die Regering deurgestuur en daarop aangedring dat meer erns met sosiale geregtigheid in die land gemaak moet word. In hierdie tyd het die Kerkraad van Stellenbosch ook ʼn beskrywingspunt
deurgestuur dat weer na ons sinodebesluite oor volkeverhoudings gekyk moet word, ʼn proses wat vir etlike jare daarna voortgeduur het en waartydens etlike van die vorige besluite (wat in die rigting van apartheid geneig het) versag of gewysig is. ʼn Aantal nuwe besluite, wat meer balans gebring het, is bygevoeg – hoofsaaklik in my formulering.
Afgesien van die twee preke elke Sondag, is ek ook dikwels uitgenooi om voordragte voor verskeie groepe oor aktuele onderwerpe te hou – in totaal ongeveer 40. Ek het talle kere voor JV’s opgetree, asook sustersvergaderings, Bybelstudiegroepe, die Kweekskoolstudente, Interkerklike Komitee ensovoorts.
Senior Jongeliede Vereniging tydens dr Amie v Wyk se termyn
Maandeliks het ons Bolandse predikante met ons gades saamgekom, ʼn tema en ander sake bespreek en baie gesellig verkeer. Dit het die onderlinge bande tussen die predikante baie verstewig.
Die heerlike berg-uitstappies onder leiding van Jan en Hildegard du Plessis, veral dié een in die Sederberge was besonders..
Een keer het ons ʼn kerkraadsvergadering gehou waartydens die finansiële state behandel is en die traktement van die dominee ook ter sprake gekom het. Een ouderling was blykbaar nie beïndruk met die stand van sake nie en toe ek die volgende week in my studeerkamer kom, lê daar ‘n rol note op my lessenaar – R4000. Die volgende week
gebeur dieselfde – R3000. Die persoon het nooit sy naam bekend gemaak nie, maar ek het ʼn goeie idee van wie dit was.
Ria vertel van die groot ongemak wat sy ervaar het toe ons dogter Marietjie die eerste was wat haar hoed afgehaal het tydens die erediens – en oom Hertzog Boersma verbygestap en vóór in die kerk gaan sit het.
Ons kinders, Jan en Marietjie, het albei op Stellenbosch gematrikuleer. Jan het in Januarie 1981 met ʼn trein na Potchefstroom Universiteit vertrek toe die spoorlyn by De Doorns voor die trein wegspoel – 1981 was die jaar van die groot reën met tragiese gevolge by Laingsburg. Dieselfde dag spoel die spoorlyn ágter die trein ook weg. Gelukkig kon die spoorlyn agter die trein herstel word en terugstoot na die Paarl. Hy moes uiteindelik ʼn vliegtuig na Johannesburg haal en het so Potchefstroom bereik.
Ek wil ook graag iets vertel van aktiwiteite buite die normale gemeentelike bediening. Op Stellenbosch was ʼn Dogmatologiese Vereniging wat gereeld by die Kweekskool vergader het, wat meegebring het dat ek gereeld met die NGK professore kontak gemaak het. Prof WD Jonker het ek lankal geken, maar kontak met van die ander professore was altyd aangenaam. Trouens, van hulle het ook by geleentheid eredienste in die Gereformeerde Kerk bygewoon, soos professore Verhoef en Jaap Durand. Selfs die filosoof, Johan Degenaar, het by ons eredienste bygewoon. Degenaar het ‘n Studiegroep gehad, waarby ek ʼn ruk betrokke was maar weens ʼn oorvol program nie kon byhou nie. In hierdie Studiegroep is krities oor politieke sake besin. Dit was vir my ‘n verrassing toe die NGK Welgelegen my uitnooi om die Sondagaand, nadat ek die Sondagoggend in die Gereformeerde Kerk my afskeidspreek gehou, by hulle die erediens te lei. My laaste preek in Stellenbosch destyds in die NGK!
Ria het ook dikwels aflosposte in Paul Roos Gimnasium en Bloemhof gevul en later ook doseerposte in kolleges in die Kaapse omgewing. Een Sondagoggend is ‘juffrou’ Coetzee, skoolhoof van Bloemhof in die erediens, en wink Ria nader toe die diens uitkom. “Sal sy asseblief ‘n geskiedenispos vul by ‘n baie besondere skool?” is die versoek. Eenkeer tydens die skoolopening het ‘juffrou’ Coetzee vir “die Sinode” gebid (bedoelende die NGK Sinode), waarna Ria haar vriendelik herinner het dat daar ook ander “Sinodes” is wat vergader.
Toe ons in 1973 in Stellenbosch gekom het, was dit ʼn taamlik geslote gemeenskap en moeilik vir buitestanders om “in” te kom. Die feit dat ek en Ria beide tennis gespeel het, het die buite-gemeenskap vir ons grotendeels ontsluit en het ons talle vriende gemaak. Ek en prof Dirk Odendaal van die Kweekskool het dikwels saamgespeel. (Desember 2016 was ek en Ria onverwags in Stellenbosch en het ons die 50-jarige feesgeleentheid van die tennisklub saam met oudlede gevier.) Ook die feit dat my niggie, Annette Giliomee, getroud met die historikus Hermann Giliomee, in Stellenbosch gewoon het, het die vriendekring verbreed.
Op Sondagoggend 22 Februarie 1981 het ek my afskeidspreek op grond van Lukas 9 vers 62 gehad met as tema: Leef vorentoe! Die lewe kan immers terugwaarts verstaan word maar dit word voorwaarts geleef – het iemand gesê. Nou is dit 36 jaar later en ons Here is steeds besig om sy gemeente in liefde te versorg en in genade te dra. Mag Sy liefde en genade ook in die jare wat kom, genoeg wees.