Dwarskersbos 17-19 Februarie 2017
Die 50-jarige viering van die gemeente het tydens die jaarlikse gemeente- kamp op Dwarskersbos 17-19 Februarie 2017 ‘n aanvang geneem. Dit was ook die laaste kamp wat Jan en Hildegard help reël het. Ons was bevoorreg om die meeste van ons vorige predikante (nl proff Bouke Spoelstra, Amie van Wyk, Cassie Venter, di Alwyn du Plessis en Fanie Grobler) teenwoordig te hê en ook te verneem van hul tye toe hulle in die gemeente was. Ons het lekker gekuier tydens die etes, ‘n skaap asadobraai geniet, langs die see gestap en sommiges het selfs die koue water aangedurf. Die gespreksfokus by die kamp was op die geestelike groei van die gemeente en is deur dr Francois Kruger gefasiliteer. Hy het die belangrike vrae voorgehou: loop ons in die voetspore van Jesus of volg ons menslike tradisies? Is Christus die hoeksteen en is ons die sout en lig, diensbaar en verhoudingsgedrewe?
Francois Kruger en Amie van Wyk
Agter vlnr: Alwyn du Plessis, Cassie Venter, Bouke Spoelstra, Amie van Wyk, Fanie Grobler, Johan van Heyningen
Voor vlnr: Bessie du Plessis, Mariana Venter, Chris Spoelstra, Ria van Wyk, Susan Grobler, Urna van Heyningen
Die naweek van 14 en 15 Okober 2017 is vervolgens in die besonder gewy aan vier byeenkomste in die teken van die herdenking.
Saterdagoggend 14 Oktober 2017: Besinning
Saterdagoggend het ongeveer 40 gemeentelede aan ‘n baie betekenisvolle bespreking deelgeneem oor die waarvandaan en waarheen van die gemeente, onder leiding van ds Johan van Heyningen. Hy het die gesprek geopen met die boodskap uit Filippense 3 waarin ons opgeroep word om te fokus op God se werk. Paulus skryf in hierdie hoofstuk oor die vryspraak wat deur die geloof in Jesus Christus ons enigste bate is, en dat ons vanuit hierdie kenverhouding met Christus strewe om al meer daarin te lewe.
Met hierdie basis vir ons gesprek het ons gaan kyk na ons waarvandaan en onder andere die erfenis van Skrifgetroue prediking as ‘n sentrale kenmerk geïdentifiseer wat ons wil behou. As geloofsmondige gemeente is die uitdaging nie alleen om nog nuwe dinge te leer nie, maar om dit wat ons reeds weet te gaan toepas. Die gesprek het ook gegaan oor die loslaat van die belemmeringe van die verlede, soos die kerkverband se ondersteuning van die nasionalistiese volksideologie. Dit moet ons doen weens die onreg wat dit meegebring het, maar is ook van belang omdat die kerk se toekoms nie net op Afrikaanse kultuur en kommunikasie gefokus kan wees nie. Ons sien ook allerlei ander veranderinge op ons pad tot hier: ‘n groter mate van samewerking met ander Christene en die aanpassing van ons gebruike as dit in die pad staan van geestelike groei, soos kleding, liedere en geslagsverskille. Soms het ‘n konserwatistiese dogmatisisme in die verlede daartoe gelei dat sekere praktyke en denkpatrone in stand gehou word terwyl daar te min gefokus is op die lewe in Jesus Christus en die lewewekkende krag van die evangelie.
In ons gesprek oor waarheen, het ons saamgestem dat ons meer soos Jesus moet word, naamlik meer Geesvervuld en meer Woord-gedrewe en meer uit liefde en geregtigheid moet lewe, meer die dienskneg-gestalte moet aanneem en meer sosiale impak moet uitoefen. Die aanpassing wat
ons sal moet maak is om meer multikultureel te word en kontak te maak met ander gemeentes, veral kleiner gemeentes en nood in ons omgewing. Verder is die uitbouing van kleingroepe noodsaaklik om te help om persoonlike, opregte gesprekke en meelewing moontlik te maak. Prediking moet ons steeds lei om te verstaan wie God is. In die woorde van ds Alwyn: “dan kan ons sout en lig wees, teenoor die gees van ons tyd wat genot en grootdoenerigheid voorhou”). Die strewe na “meer soos Jesus lewe” kan verder gekonkretiseer word in die agt eienskappe van groeiende kerke (volgens Christian Schwarz): ‘n passievolle spiritualiteit, behoeftegedrewe evangelisasie, gawe-gedrewe bediening, bemagtigende leierskap, inspirerende eredienste, holistiese kleingroepe, liefdevolle verhoudings en effektiewe strukture.
Saterdagaand 14 Oktober 2017: kuier by 15 heerlike potjies
Ongeveer 150 gemeentelede, oud-gemeentelede, nuwe gemeentelede en vriende het heerlik by die Markotter-sportterrein in ‘n feestelike atmosfeer vanaf laatmiddag gekuier terwyl 14 hoogs onvegetariese potjies en een besonder vegetariese pot, in onopvallende, maar geurige kompeterende geluide geprut het.
‘n Hele paar ‘stigterslede’ van die gemeente was teenwoordig: Henk en Hannelie Turkstra, Ins en Sarel van der Walt, Elsa en Chris Venter, en Nelia Venter met dogters Rina Venter en Susan Wust (Wiep Wever kon ongelukkig nie die geleentheid bywoon nie). Sarel, wat die tafelgebed gedoen het, was een van die mense wat destyds betrokke was by die bou van die kerk en hy het onder andere tafels gemaak en verkoop om fondse in te samel (twee van die tafels staan nou nog in die kerk se portaal).
n Groep van 50 vrywilligers uit die gemeente het die logistiek vir die potjiekos-geleentheid, onder die bekwame en ywerige leiding van Sophia du Plessis, uiters professioneel hanteer tot by die ongelooflikste nagereg van bloubessies, aarbeie en roomys wat hul plek in my moes vind na ‘n heerlike bord wildsvleis-potjie.
As die herdenking tog ook nostalgie moet beteken, dan sal ek definitief daaraan ly as ek later terugdink aan daardie spesifieke vleispotte, daardie nagereg en die warm verhoudings tussen mense wat so baie met mekaar deel soos wat die gesuis van lekker opgewonde kuierstemme my omring het.
Sondagoggend 15 Oktober 2017: erediens en getuienis
Die erediens was ‘n besondere aanbiddingsgeleentheid met die prediking deur Johan en getuienis van ‘n paar mense. Die tema van die preek was: ‘Vertel die groot dade van God in jou lewe en in die gemeente se lewe’ op die basis van Handelinge 14:27. Johan het aangedui dat die natuur, maar ook ons as kinders van God getuig van God, van die verlossing wat Hy gee en van ons pad (as gemeente en persoonlik) saam met Hom. Die getuienis lei ons ook tot selfondersoek as voorbereiding vir die sakrament van die Nagmaal. Na die preek het vyf persone getuienis gegee oor hul verhouding met God. Ben Aucamp het oor die geestelike groei wat die Veritas-kursus gebring het, getuig. Ronel Oosthuizen het oor haar geestelike groei in ‘n selgroep gepraat. Susan Grobler het oor haar pad saam met die Here en God se genade te midde van swaarkry getuig, en so ook Francois Kruger en sy dogter Anriëtte oor die krag wat God gee in die verwerking van verdriet en hoe Hy die warmte van ondersteunende verhoudings hiervoor gebruik.
Sondagaand 15 Oktober 2017: erediens en Nagmaal
Die aanddiens is mos altyd meer informeel en altyd goed ondersteun deur die studente in die gemeente. Dit was juis hulle wat die viering van die herdenking voortgesit het met pragtige, besielende kerkmusiek met begeleiding van verskillende instrumente.
Die preek het as tema gehad: ‘Die “oortref alles” lewe in Christus’ op basis van Filippense 3:8. Johan het aangedui dat om Jesus te ken en om kerk te wees beteken dat Jesus die fokus is en dat om Hom te ken en te volg alles oortref. Daarvoor is ‘n deurleefde, persoonlike geloofsverhouding nodig. Ons moet breek met uiterlike dinge wat soms vir ons so belangrik is. Ons hoef nie uit eie verdienste te lewe nie, maar uit God se genade wat ons kan omhels in die geloof. Op hierdie basis
kan ons die geestelike stryd stry, ons inspan en ons losmaak van dit wat agter ons is (ook ons foute en ons persoonlike roem).
Die erediens is met die herdenking van ons verlossing en die oproep tot dankbaarheid gevier in die gesamentlike Nagmaal wat ons weer saamgebind het as mense wat deel kry aan Christus se genade. So het ‘n naweek van herdenking tot ‘n einde gekom met sy baie inspirerende geleenthede en die besef van ons roeping vir elke dag.
Die pragtige musiek- en kunste-aand van 20 Oktober 2017 wat Maryna Horn gereël het, was vir my ‘n besondere afsluiting van die herdenking. Daar is duidelik soveel gawes in die gemeente op alle terreine, dit was hoogs inspirerend om weer daarvan, as God se genadegawes onder jonk en oud, bewus te word.
Mag hierdie fokus op God in die herdenking van ons 50 jaar en die voortdurende besinning oor die waarvandaan en waarheen ons gedagtes en optrede rig in die tyd wat kom.
Kees van der Waal